Posted on

Wetenskap is die rigtingwyser

Talle kleinveeboere op eie bodem voel tans asof hulle in ’n doodloopstraat is vanweë boerderytoestande buite hul beheer.

Die swaarmoedigheid word deur politieke en ekonomiese druk vererger, wat tot verswakte maatskaplike omstandighede in die landelike gebiede lei.

Hierteenoor is dohnemerino-boere gelukkig wetenskaplik ingestel – hulle kan negatiewe situasies objektief ontleed om nuwe geleenthede te identifiseer en benut. Jy kan dit inderwaarheid stel dat die wetenskaplike planne net nie opraak nie.

Ten einde die regte rigting in te slaan vir ’n volhoubare wolskaapboerdery is dit ’n goeie idee om die huidige situasie te ontleed en daarmee saam die goeie uit die verlede te neem.

Toeka tot nou

Die ontwikkeling van die dohnemerinoras was van meet af aan op die wetenskap gegrond. Die leiding het aanvanklik gekom van die Dohne-navorsingsinstituut naby Stutterheim in die Oos-Kaap, waar die ras as ’n projek van die eertydse departement van landbou ontstaan het.

Die klompie plaaslike pionier-wolskaapboere wat destyds by die projek betrokke geraak het, het net soos vandag ’n magdom probleme ondervind.

Lampersentasies van so laag soos 42% het toentertyd hul vermoë om volhoubaar met die beskikbare teeltmateriaal te boer, gekelder. Die dohnemerino is dus geteel deur wetenskaplike teelttegnieke toe te pas.

Dié skaapras het in hierdie kultuur ontwikkel tot die internasionaal gesogte ras wat dit vandag is.

Kenmerke en doelwitte

Hiermee ’n paar kerngedagtes oor die dohnemerinoras:

Die ras is bekend daarvoor dat hy in moeilike kommersiële toestande floreer. Dít behels dat dohnemerino-ooie lewenskragtige lammers produseer wat goed van laegraadse weidings groei.

Die telersgenootskap fokus daarop om hierdie sterkpunt van die ras sover moontlik te verbeter. Die gebruik van ooi-rekords om teeltvaars te selekteer, het grootliks bygedra om die winsgewendheid van ooie tot nuwe hoogtes te voer.

Dit is dus byvoorbeeld vandag algemeen om stoeterye te kry wat uit feitlik slegs tweeling­gebore ooie bestaan. Sulke ooitroppe produseer groter getalle lammers met uitstekende groeitempo’s. Die gevolg daarvan is groter winsmarges.

Suksesse soos dié is ’n klinkklare bewys van wat die wetenskaplike teelt oor die langtermyn bereik het.

Goeie rekordhouding oor die jare het weer gesorg dat akkurate teeltwaardes vir die komponente van reproduksietempo nou beskikbaar word.

Dohneboere posisioneer hulself ook nou om inligting uit dekkingslyste volledig te ontgin. Sodoende kan alle reproduksiefaktore en fisiologiese fiksheid optimaal benut word om meer doeltreffend en volhoubaar met wolskape te boer.

Dohnetelers sien daarna uit om genomiese seleksie so gou moontlik in te stel, sodat die boerderyvoordele van laag oorerflike eienskappe soos die getal lammers gespeen en weerstand teen parasiete behoorlik ontgin kan word.

Die balans tussen dohnemerino’s se vleisproduksie, gehardheid en wolproduksie maak dit moontlik om vinnig by veranderende ekonomiese situasies aan te pas.

Hierteenoor is die vele komplikasies wat raskruisings veroorsaak oorbekend in die wolskaapbedryf.

Afgesien daarvan dat basterkrag met verloop van tyd afneem, word bestuur bemoeilik. Die meeste rasse wat gebruik word om vleisproduksie uit wolskaapkuddes te verhoog, het weer die nadeel dat hulle wolgehalte verswak.

Akkurate identifikasie van diere met swakker wol en ’n gevolglik swakker klas skeersel lei dikwels daartoe dat kuddeboere nie die volle voordeel van kruisteelt benut nie. Hierteenoor bied die dohnemerinoras die opsie om met ’n selfvervangende kudde te boer wat dieselfde vleisinkomste as ’n suiwer vleisskaapkudde lewer.

Daarbenewens lewer dohnemerino-kuddes hoëgehalte wol teen effens laer produksiepeile as spesialis-wolkuddes. Dohne-kuddeboere kan binne dié ras korttermyn- ekonomiese tendense navolg deur bloot oordeelkundige ram-aankope te maak.

’n Optimale balans tussen wol- en vleisinkomste is ’n logiese hoofdoelwit vir dohnemerino-telers. Seleksie-indekse word daarom nou verfyn om prystendense in kombinasie met alle moontlike meetbare en niemeetbare maatstawwe volledig te verreken.

Dié ontwikkelings verg natuurlik bykomende wetenskaplike insette. Daarom het die genootskap in Januarie vanjaar vir Ashley van Niekerk as tegniese beampte aangestel.

Van Niekerk se werk vorm deel van haar MSc-studies aan die Universiteit Stellenbosch en sy vorder reeds goed daarmee.

Sy is ook nou betrokke by die opleiding van dohneboere om die konsep “slimmer boer met wolskape” baas te raak. Bestaande opleidingsprogramme vir dohneboere word deurlopend opgegradeer en virtuele opleidingsessies mag dalk vorentoe ’n groter rol speel.

  • Dr. Delport is die bestuurder van die Dohnemerino-telersgenootskap van Suid-Afrika.