Blik op sake
Die stoet se rekords word uiters akkuraat bygehou en die bestuursinsette word strategies vir optimale produksie aangewend.
Jong rammetjies word op ’n onderhoudsrantsoen aangehou, terwyl beter voeding slegs aan ooie verskaf word wat reproduseer. Dit is juis hierdie strategie wat vir uiters akkurate seleksie sorg om dohnemerinoskape te kan teel wat kommersieel goed aangepas is.
Die universiteit se stoetery is reeds as ’n bobaas- dohneteler in die streek bekroon en verkoop gereeld ramme op die genootskap se nasionale dohnemerino-veiling in Bloemfontein.
Nadat vanjaar se veiling noodgedwonge afgestel moes word, het die dohne-stoet sy kliënte in die besparing laat deel wat hy geniet het deur nie na Bloemfontein vir die veiling te reis nie. Gereelde ramkopers kon die beste teeltmateriaal uit die stoet teen baie billike pryse bekom.
Só sê kuddeboereTwee kommersiële boerderye wat gereeld dohneramme by die US-stoetery aankoop, getuig soos volg:
Peter Delport van die boerdery Franskraal, by Caledon: Die wolskaap-komponent van dié boerdery bestaan uit ongeveer 3 500 ooie. Volgens Delport het die omskakeling na dohnemerino’s ongeveer 15 jaar gelede plaasgevind, sonder dat daar enigsins op die wolgehalte of inkomste van die wolverkope ingeboet is.
Wolgehalte word aangevoer as een van die hoofredes waarom die Franskraal-boerdery in ’n groot mate by die US se teeltmateriaal hou. Die feit dat Morris sy jong dohneramme aan strestoestande tydens die prestasietoetsfase blootstel, veroorsaak dat die ramme goed op Franskraal aanpas en funksioneel goed presteer.
Die boerdery se vrugbaarheid het met minstens 15% tot 20% oor die afgelope 15 jaar se verbintenis met dié stoetery verbeter.
Met die aanname van doeltreffende seleksie onder natuurlike toestande pas hierdie betekenisvolle verbetering op Franskraal 100% by teoretiese verwagtings. Delport toets eers elke aangekoopte ram individueel met nageslagtoetsing op 40 ooie wat ewekansig toegeken word.
Eers daarna word die ramme wat geslaag het met groepparing wyd in die kudde gebruik. Volgens Delport teel die US- ramme met baie suiwer wol. Franskraal se wolskeersel op ses maande meet tussen 19 en 20 mikron. Daarbenewens bied die gebruik van dohneramme goeie lamgroei.
Dreyer van Niekerk van die boerdery Lemoenkop-plase, buite Caledon: Dié boerdery kan met reg as ’n grootskaalse presisieboerdery geklassifiseer word, en bestaan uit 8 000 dohnemerino-ooie.
Van Niekerk is net soos die Franskraal-boerdery beïndruk met hoe die universiteit se ramme by sy boerderytoestande aanpas.
Alle wolskape op dié plaas word volledig prestasiegetoets en bemarking en wolklassering vind plaas deur die diere vooraf met die radiofrekwensie-identifikasieplaatjiestelsel (RFID) te sorteer.
Lemoenkop skeer sy dohnes elke agt maande en die tipe 4-skeersel se veseldikte word tussen 19 en 20 mikron gehou. Slegs natuurlike dekking word toegepas en die US se dohneramme het oor tyd gesorg dat die speenpersentasie van hierdie kudde van “byna stoetgehalte” van 115% tot 130% opgeskuif het.
Dié prestasie is bereik deur gewone groepparing te doen, sonder enige kunsmatige behandeling. Skandering word gebruik om ooie wat met tweelinge dragtig is, te identifiseer en die wetenskap korrek te bestuur.
Die inkomsteverhouding van hierdie kudde word op 70% (vleis) / 30% (wol) gehandhaaf om optimale wins te genereer. Hierdie optimale verhouding is slegs moontlik wanneer ’n hoë speenpersentasie (130%) gehandhaaf word en lammers optimaal groei om die hoogste moontlike kilogram vleis per eenheid van die totale insette te produseer.
Die voer op hierdie plaas word strategies gebruik om diere volgens produksie te voer. Van Niekerk is van mening dat die veekomponent in enige kommersiële boerdery nie afgeskeep moet word nie en dat dit grootliks tot die stabiliteit van saaiboerderye bydra. Daar word nou met Hennie Hattingh van BKB, die US-stoet se adviseur, saamgewerk om top- genetiese materiaal te bekom, te evalueer en saam oor die doeltreffende aanwending te besluit.
Laaste sê
Die US-stoetery se samewerking met kommersiële dohnemerino-boere maak van dit ’n rolmodel vir die wolskaapbedryf.
Die integrering van stoet- en kommersiële doelwitte soos deur presisieboerdery vereis, is noodsaaklik om suksesvol met wolskape te boer. Hattingh tel bogenoemde twee kuddes onder die toptien persent in die Caledon-omgewing. Hul getuienis bevestig die rigting waarin volhoubare wolskaapboerdery ontwikkel.
Die toegevoegde waarde wat die dohneras bied, is ononderhandelbaar in hierdie ontwikkeling.