’n Raadslid van die Dohnemerinotelersgenootskap van Suid-Afrika het onlangs gesê die wolskaapbedryf in Suid-Afrika verkeer al vir die laaste vier jaar reeds in ’n “staat van inperking”.
Daar is verskeie uitdagings wat wolskaapboere op eie bodem in die gesig staar en boerderyomstandighede is ook nie altyd maklik nie. Hiermee ’n paar van die negatiewe faktore waarmee wolskaapboere te kampe het:1. ’n Rampdroogte wat in sommige gebiede al vir meer as agt jaar voortsleep. 2. Die voortdurende bedreiging van grondonteiening sonder vergoeding. Dít lei daartoe dat die terugbetaalvermoë van boere onder verdenking kom. 3. Die onvermoë van die regering om goeie biosekuriteit te handhaaf wat die onbeholpe hantering van bek-en-klouseer-uitbrake en vele ander plae soos Johne se siekte (’n chroniese, ongeneeslike bakteriese siekte by skape) insluit. Stoetboere word natuurlik meer nadelig geraak deur die staat se algehele onbegrip en apatie. 4. Die huidige selfopgelegde Covid-19-inperking gaan na verwagting die land se ekonomie met tussen 6% en 15% laat inkrimp. Dít beteken dat ingekrimpte markte en laer produkpryse veeboere se voorland is
Só maak ons
Net soos wanneer dit by die wetenskap kom, raak dohnemerinoboere se planne gelukkig nie op nie.
Koenas van der Westhuizen van Nieuwoudtville, die eienaar van die dohnemerinostoetery Towerland, het jare lange ondervinding met die sogenaamde “inperking” in die wolskaapbedryf. Hy het ’n paar goeie wenke wat hy graag met ander wolskaapboere wil deel.
Volgens hom sal boere breedweg hul wyse van boer moet aanpas om in die veranderende tye meer voer en geld op te berg – ten einde vir onsekerhede en groter skommelings in die ekonomiese klimaatstoestande te voorsien. Hy meen boere kan die volgende beginsels volg:
- Voer slim tydens droogtes. Begin betyds en voer ’n bekostigbare mengsel wat diere optimaal laat presteer.
- Werk saam met jou medeboere om grootmaataankope te doen. Moenie op skenkings en aalmoese wag wat dikwels te laat kom nie. Maak eerder betyds jou eie planne.
- Verminder jou vee betyds tot so ’n mate dat jy ekonomies kan voortboer en moontlik weer vinnig kan herstel.
- Moet indien moontlik niks op skuld koop nie. Moet jouself ook nie bankrot spaar nie, en moenie die natuur verneuk nie. Onthou: Dit wat jy insit, sal jy uitkry.
- Bly positief. Maak seker dat jy ’n positiewe invloed op jou familie en werkers het, sodat jy vir almal om jou ’n positiewe en veilige omgewing kan skep.
- Boer met ’n goeie dubbeldoelras wat produksie onder swak voeding- en klimaatstoestande kan handhaaf. Diere wat die vermoë het om swakgehaltevoer goed te kan benut, se voeromset is ook beter en lewer hoër speenpersentasies.
Dohnemerinoskape produseer ’n goeie hoeveelheid hoëgehaltewol wat boere help om droogtes te kan oorleef.
Volgens Van der Westhuizen beloop sy voerkoste per ooi tans omtrent R4 per dag. Met die vooruitsig van reën en die genade van Bo, kan dohneboere weer bo uitkom ná al die ontberings wat hulle die laaste paar jaar moes verduur.
- Delport is die bestuurder van die Dohnemerinotelersgenootskap van Suid-Afrika.